Meer oor O! Koek!

Ek het laat in my lewe geblom. Met als. Van kêrels kry tot my eerste soen tot borsies ontwikkel tot my periode kry. Ek was in Graad 11 (die ou Standerd 9) toe die rooi Ferrari die eerste keer by my kom intrek. Toe die tyd kom om te kies was doekies die ferm gunsteling by my ma en tannies. Dis mos wat hulle ken. Maar dit het my ongemaklik laat voel – die gritsh-gritsh geluid as ek loop, die dikte, die reuk, die gesweet. Julle kry die prentjie. So, vandat ek kan onthou het ek maar nog altyd tampons verkies. 

Ek het aan die begin geleer om te skat wanneer my periode sou kom – 28 dae op ‘n slag afgetel. Soms was ek reg, soms uit met ‘n paar dae. Ek is nie een van daai mense wat met ‘n handsak rondloop en gereed staan vir enige geval nie – wou nog altyd wees, maar kon nog nooit nie. En natuurlik as jy nou nie ‘n handsak dra nie, kan jy dan nou ook nie regtig voorbereid wees vir rooi Ferrari gevalle nie. Dit was nooit lekker as die rooi Ferrari in die middel van klas op universiteit (O! Koek!) besluit om sy kop uit te steek en ek moet loop gunsies vra om ‘n tampon’tjie te leen nie. Maar dit het my nooit regtig genoeg gepla om altyd met ‘n sakkie of boksie tampons rond te ry of te loop nie. Toe ek verloof raak toe besluit ek om op die pil te gaan en toe het dit heel gerieflik geword. Ek het nooit gewonder wanneer die tyd sou aanbreek nie. Ek het my pil elke dag gedrink, en elke maand op dieselfde tyd het my periode gekom.

Soos ek ouer geword het, het ek begin melasma vlekke kry as gevolg van die hormone in die pil (O! Koek! en Aggenee!), en so moes ek dit staak en weer self begin skat. En natuurlik is dit nou aansienlik meer ongerieflik as die rooi Ferrari my by die werk betrap (O! Koek!). So, toe moes ek te werk gaan om ‘n beter manier te vind om hierdie maandelikse situasie te bestuur. Dra steeds nie ‘n handsak nie maar wel ‘n laptopsak so ek het darem iets om iets anders in te sit, maar hou steeds nie van die idee om met ‘n sakkie of boksie tampons rond te ry of te loop nie. Toe begin ek maar eers met ‘n app. Ek het ‘n oulike, gratis enetjie opgespoor (soek vir Cycles op die Apple App Store of Google Play Store) wat my help om te bepaal wanneer my periode sal kom, maar met alle eerlikheid is die dingetjie meer uit as in. Ek dink nie hy was al een keer reg tot op die dag nie. So, toe moes ek aan iets anders dink. En so het ek te hore gekom van period cups.

Eers was ek baie skepties. Die dingetjie lyk dan so groot. Hoe kry mens hom dáár op sonder om ongemaklik te voel of heeldag snaaks te loop? Hoe kry mens hom weer uit? Hoe spoel mens hom uit? Lek hy dan nie? Is dit higiënies? Ek het baie meer vrae as antwoorde gehad. Ek begin toe bietjie navorsing doen en vind toe dat dit regtig eintlik maklik lyk, maar soos meeste dinge in die lewe moet mens iets eers self probeer voor jy finaal jou mind kan opmaak. Ek koop toe vir my enetjie op Takealot.

Ek onthou die dag wat ek hom gekry het nog baie goed. Ek het hom uit die verpakking gehaal en, soos al die artikels wat ek gelees het gesê het, hom op die stoof in ‘n potjie water vir so 10 minute gekook. Daarna was ek badkamer toe. Ek het ‘n hele ritueel beplan. Die lube was byderhand ingeval dinge nie glad genoeg verloop het nie. Ek my broek afgetrek, op die troon gaan sit, bene uitmekaar, die meneertjie in die helfte gevou en hom ingedruk. En verbasend genoeg was dit baie makliker as wat ek gedink het dit gaan wees. Hy het natuurlik oopgevou binne my, ek het hom bietjie op en af geskuif om ‘n lekker, gemaklike gevoel te kry, so effe afgetrek aan die steeltjie om hom te laat vassuig en ek was klaar. Ek was opgewonde vir my periode om te kom dat ek hom regtig kon uittoets. En toe die rooi Ferrari daai maand kom intrek het ek dieselfde weer gedoen en heeldag nie aan my periode gedink nie. Daai aand by die huis aangekom het ek my koppie uitgehaal, die bloed in die toilet uitgegooi, hom afgespoel onder ‘n warm kraan en weer ingesit. En nou is dit 3 jaar later en ek gebruik steeds menstruasie koppies.

Ek het almal wat ek ken vertel van my koppie. Sommige van my vriende was, soos ek, maar skepties, ander meer gretig om dit ook uit te toets. Ek het die menstruasie koppie-evangelis geword. Soveel so dat my man my een aand die idee gegee het om my eie besigheidjie te begin en self die koppies waarin ek so glo te verkoop.

En so is my klein O! Koek! besigheidjie gebore. Ek het eers ‘n tydjie gevat om te besluit op ‘n naam en ‘n kenteken. Ek het O! Koek! gekies omdat ek soveel keer onverwags betrap is deur my kalender koors, en gevoel het dat soveel ander mense ook sal kan identifiseer met daardie gevoel. Daarna het ek begin navorsing doen om ‘n goeie verskaffer te vind. Ek het verskeie opsies geevalueer en uiteindelik op een besluit wat 100% medisinale graad, BPA-vrye silikoon gebruik. Toe moes ek my verpakking kies, my website, Facebook en Instagram-blaaie uitsorteer, en my eintlike bestellings plaas, en wow, was dit nou ‘n learning curve gewees, maar een waarvan ek elke oomblik geniet het.

Die feit dat jy vandag op hierdie website geland het beteken dat jy belangstel, en ek wil vir jou dankie sê, of jy besluit om ‘n O! Koek! menstruasie koppie te koop of nie. Net die feit dat jy hier is beteken alklaar vir my so baie! Dankie vir jou ondersteuning!

So, met dit wil ek afsluit. Groet die dae van onbeplande kalender koors, ‘n ongemaklike rondskarrel en gunsies vra om ‘n doekie of tampon’tjie by ‘n vriendin of kollega te leen. Die O! Koek! menstruasie koppie verseker dat jy voorberei is vir die aankoms van die rooi Ferrari. Hierdie kopie gaan jou lewe verander. Glo my!

xoxo
K

Reg om die sprong te vat? Gooi sommer nou 'n koppie in jou mandjie: